Bemagtigende leierskap
Met hierdie toets word die karakter van 'n leier getoets en in ses kategorieë gedeel naamlik:
- Onderdanige Vertroue
- Status met Verantwoordelikheid
- Gesag met Liefde
- Herderlike Leiding
- Waarheidsbegronde Regverdigheid
- Geestelike Onderskeidingsvermoë
Hierdie vraelys is so opgestel dat die leiers van 'n gemeente hulle self daarmee kan toets om te sien waar hul sterk- en swakpunte in hul karater is, met die doel om as leiers te groei.
Soos met enige toets kan jy die resultate manipileer en daarom is dit belangrik dat jy eerlik met jouself sal wees om die mees akurate voorstelling te kry.
Daar is 30 vrae wat jou tussen 20 & 30 minte sal neem om te voltooi.
ʼn Leier wat die Here met onderdanige Vertroue dien, onderwerp sy hele lewe in vertroue aan die wil van die Here. Dit beteken dat hy bereid sal wees om eerder te sterf as om in een of ander opsig ongehoorsaam aan die Here te wees. Op ʼn skaal van een tot tien, waar een geen vertroue nie en tien volle vertroue is, wat sal jy sê is die algemene stand van vertroue teenoor die Here in jou lewe?
Status bring ongetwyfeld groter verantwoordelikheid mee aangesien mense teen die leier opsien as voorbeeld (vgl.1 Kor. 11:1). Leef jy so verantwoordelik dat jy met vrymoedigheid kan sê: “Volg my voorbeeld na”, om sodoende mense wat die Here oor jou pad bring, ook so deur jou lewe op te roep tot gehoorsaamheid (1 = glad nie verantwoordelik nie; 10 = ten volle verantwoordelik as leiers)?
Aan elke leier word bepaalde gesag verleen. Vanweë hierdie gesag wat jy ontvang het, vertrou jou volgeling jou om besluite te neem wat in almal se belang is. Is jy geneig om jou gesag te misbruik om jouself of jou gesin te bevoordeel (1 = gesag word gereeld misbruik; 10 = gesag word nooit misbruik nie)?
Een van die belangrikste aspekte van Herderlike Leiding is dat die herder voorbidding vir sy volgelinge moet doen. Doen jy genoegsame voorbidding vir die mense om jou (1 = geen voorbidding nie; 10 = genoegsame voorbidding)?
Om regverdig te kan wees, is dit belangrik dat ʼn persoon die waarheid moet liefhê, selfs ten koste van homself. Getuig jou lewe daarvan dat jou “ja”, “ja” is en “nee”, “nee” selfs al is dit ten koste van jouself (1 = bang om waarheid te praat; 10 = praat die waarheid ongeag die konsekwensies)?
Geestelike Onderskeidingsvermoë kom kortliks daarop neer dat die leier die vermoë het om die klem te laat val op die dinge wat werklik belangrik is. Dink jy in die algemeen, met die bestuur van jou tyd in gedagte, dat die klem op die dinge val wat werklik belangrik is? Goeie Bybelse prioriteite sal dan wees met die fokus op jou verhouding met God in die eerste plek, dan jou eggenoot, dan jou kinders, dan jou werk en dan die res (1 = die klem is verkeerd; 10 die klem is reg).
Vertrou jy met hart en siel op die Here vir uitkoms? Dink byvoorbeeld aan die situasie waar mense se lewens, gesindhede en opinies moet verander sodat jy in jou doel sal kan slaag. In watter mate dink jy vertrou jy dat God die verandering sal laat plaasvind (1 = geen vertroue nie; 10 = volle vertroue in God)?
Dink jy dat jy soms so op die sonde van mense rondom jou konsentreer dat jy nie meer jou eie sonde raaksien nie of dat jou eie sonde gering word in jou eie oë in vergelyking met die sonde waarmee jy elke dag te doen kry (1 = ek is geneig om op ander se sonde neer te kyk; 10 = ek het ʼn deeglike sondebesef en beskou myself glad nie beter as ander nie)?
Indien jy beledig word kan jy op een van twee maniere reageer. Jy kan alles in jouself doen om jouself te verdedig of jy kan die geleentheid gebruik om te kyk hoe Christus in die situasie die meeste verheerlik kan word al is dit dalk ten koste van jouself (vgl. Fil. 1:17-18). In hoe mate is jy bereid om jou eie gemak en gerief prys te gee om Christus se liefde deur jou gesag uit te oefen (1 = eie gemak en gerief is die belangrikste; 10 = die klem op Christus is die belangrikste).
In hoe mate is jy besig om innige vriendskapsbande te vorm met die mense wat saam met jou werk of wat dalk vir jou werk of wat in jou gemeente is (1 = ek is skrikkerig; 10 = ek doen my bes om innige bande te smee)?
In watter mate is jy bereid om die waarheid te verdraai vir eiegewin (1 = leef nie die waarheid volgens Gods woord uit nie; 10 = leef ten volle in die waarheid)?
Wys jou woorde en optrede dat jy die nodige Geestelike Onderskeidingsvermoë het om te besef dat dit belangriker is om jou lewe aan God te wy as om mensgemaakte reëls na te kom en mense tevrede te stel (1 = geen onderskeidingsvermoë nie; 10 = goeie onderskeidingsvermoë)?
Vertrou jy met hart en siel op die Here vir die toekoms? Dink byvoorbeeld aan jou hulpbronne. Spandeer jy al jou tyd en geld daaraan om jou vreugde, status, toekoms ens. te bevorder omdat jy diep in jou hart dink dat dit jou lewe waarde gee? In watter mate dink jy vertrou jy dat God jou toekoms bepaal (1 = geen vertroue nie; 10 = volle vertroue in God)?
In watter mate dink jy speel die waardering wat jy vir die goeie werk wat jy doen of waardering wat jy kry vir die hulp wat jy aan mense bied ʼn rol in jou menswees? Gaan dit vir jou daaroor om raak gesien te word of erkenning te kry (1) of gaan dit vir jou met alles wat in jou is daaroor om Christus só aan mense voor te hou (selfs in jou werk) dat Hy aanbid kan word (10)?
Is jy geneig om konflik te vermei omdat jy dalk nie die lewe vir jouself onnodig moeilik of gekompliseerd wil maak nie of omdat jy bang is dat jou verhouding met sekere mense dalk daardeur benadeel kan word. (1 = ja ek vermei konflik; 10 = nee, ek is bereid om in liefde te konfronteer ongeag die konsekwensies).
'n Goeie leier is besorg oor die geestelike groei van ander en dit selfs wanneer sy sorg ten koste van homself is. Daarteenoor veroorsaak selfgesentreerdheid en eie gemak dat ons soms ons verantwoordelikhede versuim. In hoe mate is selfgesentreerdheid en eie gemak ʼn probleem in jou lewe (1 = ʼn groot probleem; 10 = glad nie ʼn probleem nie)?
In watter mate het jy die vrymoedigheid om eerlik om verskoning te vra vir die foute wat jy gemaak het (1 = geen vrymoedigheid nie; 10 = absoluut eerlik)?
Getuig jou lewe daarvan dat jy besef dat die eer en roem alleen aan die Here behoort omdat alles wat jy is en het net genade uit sy hand is (1 = ek eien die eer vir myself toe; 10 = ek gee al die eer aan die Here)?
Vind jy dit maklik om jouself onder mense se gesag te stel (1 is moeilik, 10 is maklik)?
Wat sal jy sê is jou gesindheid teenoor mense wat nie jou gesag en raad aanvaar nie (1 = kwaad/apaties; 10 = aanvaarding/liefde)?
Sekere leiers is daartoe geneig om hulle gesag op ander af te dwing. In hoe mate is jy bereid om mense wat met jou verskil in liefde te akkommodeer (1 = Ek voel mense moet na my luister ongeag; 10 = ek is bereid om te akkommodeer)?
ʼn Leier moet begrip hê vir die omstandighede waarin sy volgelinge verkeer, naamlik die nood, versoekings, druk ens. In watter mate voel jy veroorsaak jou geïsoleerdheid (as leier) met die mense om jou dat jy nie die lewensomstandighede van daardie mense ten volle begryp nie (1 = geen begrip; 10 = volle begrip)?
Raak jy soms in argumente betrokke oor sake wat nie vreeslik belangrik is nie (1 = ek raak dikwels betrokke in onbelangrike argumente; 10 = ek vermy onbelangrike argumente).
Getuig jou lewe daarvan dat die koninkryk van God en sy wil belangriker is as hierdie aardse lewe en besittings (1 = eie gemak en voorspoed is vir my nog te belangrik; 10 = die Koninkryk van God is die belangrikste)?
Wanneer daar by jou werk of in jou gemeente ʼn besluit geneem word oor ʼn nie wesenlike saak, maar waarmee jy nie saam stem nie, sal jy jou in vertroue op die Here in so ʼn geval aan die besluit onderwerp (10) of sal jy alles in jou vermoë doen om die besluit te probeer verander (1)?
In watter mate speel die status wat jy ontvang weens jou beroep (as dokter, ingenieur, advokaat, onderwyser, pa, ma ens.) ʼn rol in jou verwagting van hoe mense jou moet behandel? (1 = verwag dat mense my altyd met agting moet behandel; 10 = leef met die gesindheid: “Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Luk. 17:10))
Indien ʼn persoon in liefde gesag uitoefen, beteken dit dat God se liefde sigbaar moet word in die manier waarop jy as leier gesag uitoefen in die bestuur van sake. Dink jy dat God se liefde sigbaar word in die manier waarop jy die gesag wat aan jou toevertrou is, uitoefen (1 = die liefde ontbreek; 10 = die liefde is duidelik sigbaar)?
Hoeveel geduld het jy met iemand wat sonde doen en daarin volhard? (1 = ek het geen geduld nie; 10 = ek verstaan die genade van Christus met my en het daarom baie geduld).
Wys die manier hoe jy kritiek hanteer dat jy ‘n deurleefde sekerheid het van jou identiteit in Christus (1 = Ek word woedend vir enige kritiek; 10 = Ek weeg alle kritiek aan die Woord)?
Voel jy gemaklik om met mense te gesels wat ‘n laer of hoër sosiale status as jy handhaaf (1 = Ek praat net met mense soos ek; 10 = Ek is bereid om met enige persoon te praat)?
Onderdanige Vertroue
Onderdanige vertroue is jou sterkste karaktereienskap wat die volgende van jou sê as leier!
- As leier toon jy die nodige eerbied en respek vir die Here en daarom onderwerp jy jouself met nederigheid aan Hom omdat jy Hom met jou lewe vertrou.
- Met geloofsvertroue hou jy as leier aan die beloftes vas, wat die Here in sy Woord maak.
- As leier probeer jy om nie vas te kyk in jou eie swakheid nie, maar om jou oë te vestig op die krag waarmee God in en om jou werk.
- As leier sal jy, wanneer almal om jou paniekerig is, tot God bid en op Hom vertrou.
- 'n Leier met Onderdanige Vertroue pas sy roeping volkome aan by dit wat God hom leer in sy Woord en deur sy Gees.
Praktiese implikasies van Onderdanige Vertroue:
- Gee altyd die eer aan die Here met elke oorwinning/sukses wat jy behaal. 'n Leier weet dat elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk van die Here af kom.
- Vertrou eerder op die Here as om mense te probeer tevrede stel en in die proses die Here te verloën.
- Indien 'n leier nie gewillig is om deur God gelei te word nie, is hy ook nie waardig om ander te lei nie, omdat hy sy eie god geword het.
Lees gerus by hierdie skakel meer oor al die ander karaktertrekke van leierskap:
Status met Verantwoordelikheid
Status met Verantwoordelikheid is jou sterkste karaktereienskap wat die volgende van jou sê as leier:
- As leier soek jy nie jou status in jou vermoëns, aansien, en prestasie nie. Jou status is stewig geanker in jou verhouding met die Here. 'n Leier weet dat hy kind van God is.
- Hierdie status (kind van God) bring die verantwoordelikheid mee om in alles getrou te wees aan die Here.
- 'n Leier wat Status met Verantwoordelikheid verstaan, sal altyd die grootste nederigheid bewys aan die mense wat ondergeskik is aan hom.
- Jou vertroue in die Here stel jou daartoe instaat om in nederigheid jou werk te doen as dienskneg, in diens van die Here jou God!
Praktiese implikasies van Status met Verantwoordelikheid:
- 'n Leier wat sy Status met Verantwoordelikheid gebruik, besef dat hy nie bekommerd hoef te wees oor 'n gebrek aan vermoë, aansien en prestasie nie. God stel die leier in die posisie aan en Hy sal aan hom die nodige vermoë skenk om sy taak suksesvol af te handel.
- 'n Leier wat Status met Verantwoordelikheid verstaan, sal alleen by God wil hoor, "Mooi so, goeie en getroue slaaf..." (Matt. 25:21-23). Doen jou werk altyd, soos vir die Here!
- 'n Leier vergelyk nie homself met ander leiers nie. Hy wil nie die beste ouderling of beste predikant wees nie, maar slegs die beste binne die grense wat die Here vir hom stel.
Lees gerus by hierdie skakel meer oor al die ander karaktertrekke van leierskap:
Gesag met Liefde
Gesag met Liefde is jou sterkste karaktereienskap wat die volgende van jou sê as leier:
- As leier weet jy dat jou gesag deur die Here aan jou gegee is en daarom sal jy daardie gesag uit liefde vir God in sy diens gebruik.
- 'n Leier wat sy Gesag met Liefde uitleef besef dat daar 'n belangrike ballans is tussen gesag en liefde. Gesag sonder liefde is kras en reguit. Dit maak mense seer! Liefde sonder gesag is weer lafhartig. Jy hardloop weg van konfrontasie en konflik omdat jy bang is vir wat mense gaan sê, dink of voel.
- 'n Leier wat Gesag met Liefde toepas sal altyd die Here se eer voorop stel, sodat Hy die gesag wat die Here aan hom gee, met liefde uitoefen.
Praktiese implikasies van Gesag met Liefde:
- Die Leier kan nie sy Gesag met Liefde bestuur indien hy nie sy verhouding met die Here bo alles in sy lewe stel nie. Christus moet eerste wees en nie my eie eer, eie wil, my eie vreugde ens. nie. Die gevolg is dat dit wat mense dink en selfs wat die leier voel, altyd ondergeskik is aan gehoorsaamheid aan die Here.
- Die Here gee aan die leier bepaalde gesag wat hy so moet bestuur dat sy liefde vir die Here en sy naaste sigbaar sal word.
Lees gerus by hierdie skakel meer oor al die ander karaktertrekke van leierskap:
Herderlike Leiding
Herderlike Leiding is jou sterkste karaktereienskap wat die volgende van jou sê as leier:
- As leier is jy nie iemand wat apaties staan teenoor die lyding en verdrukking van die mense wat jy lei nie. Jy het 'n innige meegevoel.
- Jy is iemand wat dikwels ten koste van jouself bereid is om die kudde wat die Here aan jou sorg toevertroue het, te versorg.
- Soms sal dit vir die Herderlike leier kan voel dat sy werk 'n groot las is, maar hy vind sy krag daarin om sy oë op Christus te hou wat hom deur alles dra.
Praktiese implikasies van Herderlike Leiding:
- 'n Leier wat Herderlik lei, is een wat gereeld as bemiddelaar tussen God en die kudde optree.
- Dis iemand wat lankmoedig omgaan met mense wat volhard in sonde, want hy ervaar telkens in sy persoonlike verhouding hoe die Here 'n wonderlike lankmoedigheid teenoor hom bewys.
- 'n Persoon wat Herderlike lei is nie op homself gerig nie. Hy stel eerder homself daarop in om elkeen wat die Here onder sy sorg geplaas het, te dien.
Lees gerus by hierdie skakel meer oor al die ander karaktertrekke van leierskap:
Waarheidsbegronde Regverdigheid
Waarheidsbegronde Regverdigheid is jou sterkste karaktereienskap wat die volgende van jou sê as leier:
- Die belangrikste beginsel wat hier navore kom is dat jy as leier besef dat jou sonde jou slegter maak as wat jy dink, maar dat jy ter selfde tyd meer geliefd is in Christus as wat ons ooit verdien.
- Slegs in Christus kan ons ware regverdigheid ontvang (vgl. Rom. 8:1).
- 'n Leier wat in Waarheidsbegronde Regverdigheid leef, het nie meer nodig om enigiets voor te gee wat hy nie is nie en daarom leef hy met integriteit.
Praktiese implikasies van Waarheidsbegronde Regverdigheid:
- Omdat die leier eerlik is met homself oor sy sonde, het hy nie meer nodig om met leuens sy verlede of hede toe te smeer nie.
- Sy berou is opreg en nie geveins nie.
- Waarheidsbegronde Regverdigheid help die leier om nie oorsensitief te wees vir kritiek of beledigings nie.
Lees gerus by hierdie skakel meer oor al die ander karaktertrekke van leierskap:
Geestelike Onderskeidingsvermoë
Geestelike Onderskeidingsvermoë is jou sterkste karaktereienskap wat die volgende van jou sê as leier:
- As leier het jy die nodige onderskeidingsvermoë om te weet waar jou verantwoordelikheid as mens ophou. Daarom vertrou jy die Here dat Hy aan jou die nodig wysheid sal gee om jou roeping suksesvol uit te voer.
- Geestelike Onderskeidingsvermoë maak dat jy besef dat jy nie mense kan oortuig nie. Jy getuig en laat dit verder geheel en al aan die Here oor om die persoon te oortuig.
- Geestelike Onderskeidingsvermoë is nou gekoppel aan die leier se verhouding met die Here. Hoe beter jy Jesus as jou Verlosser ken, hoe meer insig sal jy kry om reg op te tree in moeilike omstandighede.
Praktiese implikasies van Geestelike Onderskeidingsvermoë:
- 'n Leier met Geestelike Onderskeidingsvermoë sal altyd homself in gebed na God wend om te vra dat God leiding sal gee.
- Dis vir 'n leier met Geestelike Onderskeidingsvermoë belangriker om sy lewe aan God te wy as om verskillende godsdienstige reëls na te kom.
- 'n Leier met Geestelike Onderskeidingsvermoë besef dat niemand iets aan hom kan doen as dit nie die Here se wil is nie. Een van die gevolge is dat hy nie vir dreigemente bang is nie.
Lees gerus by hierdie skakel meer oor al die ander karaktertrekke van leierskap: